Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


Die Nuusspan het drie items ontvang wat in hierdie bulletin moet wees!

SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 18 FEBRUARIE 2018

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Die bulletin word deur ZS6JPL via Echolink herlei. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za,afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin die bulletin vanoggend met nuus van twee stil sleutels.

Dit is met leedwese dat die Port Elizabeth Amateurradiovereniging (PEARS) moet aankondig dat die sleutel van Trevor Scarr, ZS2AE, op 85-jarige ouderdom, na 'n kort stryd teen longkanker stil geword het. Trevor was vir baie dekades 'n radio amateur en hy was instrumenteel in die stigting van die vroeëre klub-herhalers, wat later deel van die Oos-Kaapse Herhalernetwerk geword het. Ter erkenning van hierdie en sy ander bydraes tot die stokperdjie, was hy 'n ontvanger van die gesogte Jack Twine-toekenning. Trevor was 'n man van vele talente. Met sy aftrede het hy na 'n aftree-kompleks verhuis, waar hy die voltydse orrelis by die weeklikse kerkdienste geword het. Sy heengaan het 'n leemte gelaat in baie lewens en plekke.

Ons betuig ons innige meegevoel aan Chris, ZS2AAW, Vanessa, ZS2VS, familie en vriende.

Dit is met leedwese dat ons aankondig dat Scamp Porter, eks-ZS6SMP, skielik op 19 Januarie in Kaapstad oorlede is. Scamp was vir baie jare ‘n lid van die Sandton Amateurradioklub. Met sy vorige roepsein, ZR6SR, was hy aktief op BHF, en was ‘n ywerige en belangrike lid van die Sandton Klub se span wat ‘n veldstasie op Breedt se Nek in die Magaliesberg opgerig het om aan die jaarlikse BHF/UHF kompetisie deel te neem.

Min mense in amateur radio was bewus dat Scamp ‘n baie suksesvolle vorige lewe in motorwedrenne gehad het. Hy en John Conchie het saam die 1ste plek behaal in die eerste 9-uur uithouwedren vir Sedanmotors op Kyalami in 1961. Hy het sedan motorwedrenne vir Renault ontwikkel en het ook aan die Total Ekonomie Wedren deelgeneem. Hy het later na Toyota oorgeskakel en het uiteindelik in 1972 uitgetree uit sy wedrenloopbaan. Scamp het sy eie werkswinkel gehad, maar het ‘n paar jaar gelede afgetree. Hy het na Kaapstad getrek waar hy saam met sy seun Colin, nou ZS1RS gewerk het. Hy was altyd ‘n absolute heer met ‘n goeie sin vir humor en ‘n allesomvattende glimlag.

Ons betuig ons innige meegevoel aan Colin en Elmien.

POUSE

In die nuus vandag:

SARL PRESIDENT OM BOUVET EILAND DXPEDISIE SPAN IN DIE KAAPSTAD TE ONTMOET

'N NUWE HAMMIES KLUB GESTIG

en

MIKROGOLF OPDATEER 2018

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

SARL PRESIDENT OM BOUVET EILAND DXPEDISIE SPAN IN DIE KAAPSTAD TE ONTMOET

SARL President, Nico van Rensburg ZS6QL, sal vandag met die span van die Bouvet Eiland DXpedisie in Kaapstad ontmoet tydens 'n funksie gereël deur die plaaslike radio amateurs. Die DXpedisie moes gekanselleer word weens ongunstige weerstoestande wat dit onmoontlik maak om met 'n helikopter te vlieg om op die eiland te land. Hul skip het 'n enjin faling gehad en dit is besluit om met net een enjin na Kaapstad te vaar omdat dit die naaste veilige bestemming was.

LAASTE KANS OM TE BESPREEK VIR SDR WERKSWINKEL IN DURBAN

Die sluitingsdatum vir besprekings is op 23 Februarie 2018. Vir besonderhede, besoek www.amsatsa.org.za. Dit is 'n gesamentlike AMSATSA, SARL en Highway Amateurradioklub geleentheid.

'N NUWE HAMMIES KLUB GESTIG

Daar is 'n nuwe Hammies klub in Sentraal Suid-Afrika. Baie geluk aan die ZS4ZU Hammies Klub wat gestig is deur die Welkom Radioklub, ZS4WRC. Jacques Louw, ZS4WW, is die sameroeper van ZS4ZU. SARL Nuus wens Jacques en die Welkom-span al die beste toe.

SARL DIGITALE KOMPETISIE VOLGENDE SONDAG

Die doel van die SARL Digitale kompetisie op Sondag 25 Februarie is om soveel moontlik kontakte tussen radio amateurs in Suider-Afrika te vestig deur die FT8/RTD-modusse te gebruik. Die kompetisie is oop vir alle radio amateurs in Suider-Afrika en duur vanaf 14:00 UTC tot 17:00 UTC met aktiwiteit tussen 3 580 tot 3 600 kHz, 7 040 tot 7 060 kHz en 14 070 tot 14 099 kHz.

'n Stasie kan twee keer op elke band gekontak word, een keer op RTD en een keer op FT8. Die uitruiling is 'n RSQ-verslag en die eerste 4 syfers van jou ruitvierkant, bv. KG30. Kontakte met stasies in Gebiede 1 tot 7 is 3 punte werd. Kontakte met stasies in die res van die wêreld is 1 punt werd. Gebiede 1 tot 6 is ZS1 tot ZS6, Gebied 7 is Swaziland, Lesotho, Malawi, Zambië, Mosambiek, Angola, St Helena eiland, Tristan da Cunha eiland , SANAE basis, Reunion eiland, Mauritius, Madagaskar, Mayotte en die Comoros.

Logstate in die ADIF-, Cabrillo- of MS Excel-formaat met 'n opsommingsblad en gemerk "my roepsein Digitale Kompetisie," moet per e-pos aan contest@sarl.org.za gestuur word teen Maandag 5 Maart 2018.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga.

EKSPERIMENTELE TUISBOU-TOERUSTING VEREIS NIE TIPE GOEDKEURING NIE

Eksperimentele Tuisbou-toerusting wat deur die radio amateurs ontwikkel en gebou is vir hul eie gebruik in terme van die voorwaardes van hul lisensie, sal nie tipe goedkeuring vereis nie, het OKASA ooreengekom op die kwartaallikse SARL/OKASA skakelvergadering wat Donderdag verlede week gehou is. Die vrystelling van die tipe goedkeuringsproses is deurlopend en sal eers gefinaliseer word in die OKASA 2018/2019 finansiële jaar wat op 1 April begin.

Die goedkeuring en publikasie van die band plan is weer bespreek. Die SARL het sy ontevredenheid uitgespreek en gevra dat die amateur radio frekwensietabel ontsluit word van die algehele band plan aangesien dit onnodig vertraag word weens voortdurende verskille tussen die Departement van Telekommunikasie en Posdiens en OKASA oor ander meer kwessies in die Nasionale Frekwensieplan. OKASA het gereageer deur te bevestig dat hulle alles moontlik doen om die saak te bespoedig en aangedui dat hulle en DTPS binnekort sal ontmoet om die plan te finaliseer. Die finale goedkeuring lê by die DTPS Minister Dr Cwele.

Die voorstel dat CRASA, die liggaam van die SAOG-reguleerders, die CEPT-gaste lisensie-reëling aanvaar, sal tydens die CRASA-algemene vergadering, geskeduleer vir vroeg in April 2018, bespreek word. OKASA het gesê hulle sal die voorstel ondersteun. Radio-amateurs in die SAOG-lande kan help deur met hul reguleerders te praat en die voordele van die CEPT-ooreenkoms te verduidelik. Vir enige dokumente, stuur 'n e-pos aan admin@sarl.org.za.

IN DIE 1920s IS AMATEURS SLEGS AS RADIO EKSPERIMENTEERDERS GELISENSIEER

In die 1920s was amateurs deur die PMG gelisensieer slegs vir radio eksperimente, selfs in Suid-Afrika. Dit was gedurende hierdie tyd wat amateur radio sy grootste bydrae tot die radio wetenskap gemaak het met die ontdekking van DX-werking op kortgolwe. In 1927 het die ITU (toe die Internasionale Radiotelegraaf Unie) tydens sy konferensie in Washington spesiale bande toegeken aan die vyf erkende dienste; Uitsaai, Maritieme Mobiele, Vaste, Mobiele en Amateur. Die radio amateurs is beloon met ses bande vir hul baanbrekerswerk op kortgolwe.

Met die verloop van tyd het 'n nuwe generasie radio amateur die gesig van amateur radio verander na dié van 'n stokperdjie waar innovasie en eksperimentering nie meer so belangrik was nie. In die moderne tyd het kortgolf uitsaaiers en ander kommersiële dienste begin om die kortgolfbande te verlaat vir groener weivelde op satelliete in die mikrogolf spektrum waar seine meer betroubaar en konstant is. Amateur radio moet nou 'n opvang spel speel as hulle die 21ste eeu wil oorleef, met inagneming dat die moderne generasie baie rekenaargeletterd is en SDR hulle sal aantrek en hulle benodig net 'n tipe amateur radio wat aantrekliker is vir hulle. Amateur radio moet die nodige veranderinge maak om aan toekomstige eise te voldoen en weer deel te word van die nuwe radio wêreld. Gelukkig is daar 'n aantal toegewyde amateurs in die VSA en Duitsland wat briljante werk op die amateur mikrogolf bande doen.

OP MY GOLFLENGTE

Luister elke Woensdagaand tussen 22:30 en 23:00 na die program "Op my golflengte" wat op Pretoria FM aangebied word tydens Martin Jansen se laataand program. Die eerste program word reeds op 7 Maart 2018 uitgesaai. Die program beoog om die wêreld van die Radio Amateur en die Amateur Radio Diens aan die luisteraars bekend te stel. Die program inhoud is daarop gemik om interessante nuusgebeure, onderhoude met radio amateurs, amateur radio onderwerpe en nog baie meer met die luisteraars te deel. Skakel in op 104.2 FM, DSTV kanaal 887 of luister saam op die internet by www.pretoriafm.co.za

WESRAND AMATEURRADIOKLUB SNUFFELMARK

Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 24 Februarie 2018 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting skakel, Phillip, ZS6PVT, op 083 267 3835.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Sonvlek AR2699 is besig om te verval met bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie. Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

18 Februarie – die ARRL DX Gelykgolf Kompetisie
22 Februarie – die sluitingsdatum vir die Maart Radio ZS
24 Februarie – die Wesrand Amateurradioklub Snuffelmark
25 Februarie – die SARL Digitale Kompetisie
3 Maart – die SDR Werkswinkel in Durban en die Kaapstad Amateurradiosentrum se Reuse Snuffelmark
3 en 4 Maart – die ARRL DX ESB Kompetisie
4 Maart – die SARL Hamnet 40 m Kompetisie
10 en 11 Maart – die SARL BHF/UHF Analoog Kompetisie en die 82ste RSGB Statebond Kompetisie

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

SARL President, Nico van Rensburg ZS6QL, sal vandag met die span van die Bouvet Eiland DXpedisie in Kaapstad ontmoet tydens 'n funksie gereël deur die plaaslike radio amateurs. Die DXpedisie moes gekanselleer word weens ongunstige weerstoestande wat dit onmoontlik maak om met 'n helikopter te vlieg om op die eiland te land. Hul skip het 'n enjin faling gehad en dit is besluit om met net een enjin na Kaapstad te vaar omdat dit die naaste veilige bestemming was.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, geredigeer deur Dennis Green, ZS4BS, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003